Dr-Willa-Boezak

Willa Boezak

Teologie, Khoi-San, skrywer en antropoloog

Willa Boezak behaal ’n diploma in maatskaplike werk en ’n meestersgraad in teologie (met lof) aan die Universiteit van Wes-Kaapland, sy Drs.Th. (met lof) aan die Vrije Universiteit van Amsterdam en die PhD in menslike wetenskap aan die Universiteit van Kaapstad. Hy doen navorsing by Yale Universiteit in die VSA vir sy doktorale tesis: God’s Wrathful Children, wat in 1995 gepubliseer is.

Hy doseer twaalf jaar lank teologiese etiek aan die Universiteit van Wes-Kaapland. In 1998 sluit hy by die Khoisan-herlewingsbeweging aan en word twee jaar daarna deur Opperhoof Biskop D.J. Kanyiles ingeseën as kapelaan vir die nasionale raad van Khoi-stamhoofde.

Dr. Boezak dien vier jaar lank op die Wes-Kaapse Premier se Erebewyse-paneel, en in 2003 stel oud-president Mbeki hom aan as lid van die Kommissie vir die Beskerming en Bevordering van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe.

Vanaf 2012 tot 2015 was hy eers ondervoorsitter en daarna voorsitter van die Wes-Kaapse Kultuurkommissie nadat hy vir vier jaar Engels in Suid-Korea aangebied het. Hy sluit by die Griekwa Nasionale Konferensie se Raad van Hoofde aan, onder gesag van Opperhoof Alan le Fleur en was raadgewer vir die nasionale Khoisan-raad.

Sedert 2014 bied hy ’n reeks lesings aan oor die Khoisan se identiteit, geskiedenis en spiritualiteit vir die ATKV aan, gegrond op sy boek Só Glo Ons. ’n Biografie oor die stigter van die Griekwa Nasionale Konferensie van Suid-Afrika, Griekwaheld: A.A.S. le Fleur I, verskyn in 2017 uit sy pen. Hy het maandeliks vir Netwerk24 geskryf (2016-17); onlangs ’n akademiese artikel vir die VN en die Universiteit van Pretoria; met ’n bydrae in WAM Carstens en M. le Cordeur (reds.) se Ons kom van vêr.

Willa is ook ’n kunstenaar en het oor die jare heen aan groepsuitstallings deelgeneem, waarvan die jongste in Maart 2017 by die Breytenbach-sentrum op Wellington – met ander uit verskeie geloofsgemeenskappe rondom die tema: Instrumente van Vrede. Sy solo-uitstalling oor die lewe van oud-pres. Mandela is in die Kunstekaap en Kasteel vertoon van 2014 tot 2015.

Hy het ’n passie vir die behoud en bevordering van Afrikaans op tersiêre vlak, is lid van Gelyke Kanse en tree gereeld op openbare platforms soos RSG op. Hy is ook deel van Die Riel van Hip Hop-groep wat die trots op al die variëteite van Afrikaans bevorder.

Willa en dr. Danny Titus is tans besig met die verfilming van ’n Afrikaanse TV-dokumentêr oor die verlede, hede en toekoms van die Khoisan van Suider-Afrika (vir kykNET, met rolprentmaker, Dick Voorendyk).

Who’s Who in Southern Africa.