Danneline-Ramsden-foto-Willem-Fransman-Jr

Danneline Ramsden

Woordkunstenaar en Storieverteller

“Lag is die beste geneesmiddel.” Die filosofie het die storieverteller Danneline Ramsden op ’n spesiale reis deur die lewe geneem. As ’n gebore Namakwalander van Kommagas, het Danneline die vermoeë om gehore te laat skaterlag met haar staaltjies uit die kontrei en prettige stories uit haar lewe. Sy het haar laerskooljare by F.J.Smit Intermediêr te Komaggas voltooi asook haar hoërskooljare by Hoërskool Steinkopf  waarna sy ’n Educare Sertifikaat verwerf het deur Tegniesa. Haar loopbaan het sy begin as ‘n Pre-Primêre Onderwyseres en daarna nouer betrokke geraak by VCSV ‘n christelike jeugbewegings.

Danneline glo ons land het ‘n tekort aan rolmodelle vir die jeug en daarom werk sy hard om ’n rolmodel vir andere te wees. Deur haar betrokkenheid by die VCSV het sy die land leer ken en die geleentheid gehad om produksies, drama’s, danse, kabarette, poppekas en musiek landwyd op te voer by skole en kerke.

Sy beoog om haar eerste cd, dvd en boek in die toekom vry te stel. Haar droom is ’n Storievertel-reeks op televisie, waar sy gasstorievertellers kan nooi om saam met haar stories te vertel. Sy het ook ’n liefde vir musiek, veral Afrikaanse musiek, en sing.

Danneline is ’n gunsteling by Afrikaanse feeste en het onder meer opgetree by die Woordfees in Stellenbosch, Suidoosterfees by Artscape, KKNK in Outshoorn, die Herold Meander Fees in George asook by die Snoek en Patat Fees saam met ATKV. Sy het in 2016 saam met ATKV opgetree by die Naelstringlesings wat aangebied word deur dr Willa Boezak. Sy gaan 2018 weer stories vertel tydens ATKV se Naelstringlesings en Stringstories. Danneline was ook ‘n gaskunstenaar in 2018 by Kuier se Pienk Plesier.

Haar stem is ook al dikwels op RSG, Heart FM, Radio Kaapse Kansel, Eden FM, Radio Overberg, Radio KC, Radio Tygerberg en Radio NFM 98.1 gehoor.

Danneline het ook onderhoude gevoer op Fokus met Keith Sayster asook op SABC Nuus met Ulrich Hendriks. Sy het gasverskynings gemaak op OppieStoep op KykNet en KykNet en Kie, op TUSSEN ONS op KykNet en Kie asook op Bravo op KykNet.

Danneline se artikels het al verskyn in die Kuier, en verskeie koerante o.a Die Burger, Die Tygerberger, Die Son, Helderberg, Eikestad Nuus, Kazette, Paarl Post asook Die Plattelander en die Namakwalander koerant.

Danneline bemoedig jongmense en sê: “Moenie ophou leef nie, hou aan droom. Op God se perfekte tyd gaan Hy jou gebede beantwoord en jou drome bewaarheid.”