Die kultuurman en menseregtekenner dr. Danny Titus was Saterdag, 14 November 2020, postuum deur die DAK Netwerk vereer as deel van die organisasie se jaarlikse ere-toekennings aan presteerders uit die bruin Afrikaanssprekende gemeenskap.
Ander individue wat vir hul besonderse bydraes by die geleentheid by die KunsteKaap-teater om 12:00 toekennings ontvang het is die sakevrou Helene Africa, vroueregte-aktivis Lucinda Evans, rugbyman Thelo Wakefield en (ook postuum) teoloog prof. Mary-Ann van Huffel Plaatjies en oudpolitikus en mediapionier Cobus Dowry.
Die voorsitter van die DAK Netwerk, Danie van Wyk [kontaknommer: 063 502 0879], sê die doel van die toekennnings is om mense te vereer wat op verskeie vlakke in die samelewing positiewe verandering teweeg gebring het. DAK se naam word aan die Khoi-ikone Doman, Autshomao en Krotoa ontleen.
Titus, wat die stigtersvoorsitter van die DAK Netwerk was, is in September vanjaar oorlede. Hy was voor sy aftrede in Mei die hoof van korporatiewe aangeleenthede by die ATKV en voorheen uitvoerende direkteur vir kultuursake. Hy was ook ‘n kommissaris van die Suid- Afrikaanse Mensregtekommissie en Suid-Afrika se verteenwoordiger oor inheemse aangeleenthede by die Verenigde Nasies.
Africa het van ‘n eenvoudige begin in die versekeringsbedryf deur deeltydse studies en kursusse in bemarking uiteindelik gevorder tot die Groepbestuurder: Wes-Kaap van Old Mutual vandag. Evans is die stigter van Philisa Abafazi Bethu (“maak vrouens gesond”). In 2016 is sy deur die Franse regering met die Chevalier de la Légion d'Honeur (Franse Legioen van Eer) vereer en in 2019 is sy deur die BBC as een van die wêreld se 100 mees invloedryke vroue aangewys. Wakefield is die vorige President van die WP Rugby-unie en het ook vir lank op die raad van die SA Rugby-unie gedien. Hy beklee gedurende sy loopbaan verskeie posisies in die Tygerberg-unie, by die destydse Technikon Skiereiland en ná rugby-eenheid in 1992 by WP en Saru. Dit is vir sy ywer om sport in die Wes-Kaap en die land te normaliseer dat hy vereer word.
Van Huffel-Plaatjies was ‘n vrou van vele eerstes, waaronder die eerste vroue-predikant van die destydse NG Sendingkerk, eerste vrou om as volle professor aan die Teologiese Fakulteit van die Universiteit Stellenbosch aangestel te word en eerste vroulike Moderator van die Algemene Sinode van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Dowry word erken vir sy baanbrekerswerk in die Afrikaanse media (radio en televisie) en ook vir sy latere bydrae tot die ontwikkeling van landelike gebiede as Wes-Kaapse minister van landbou.
Onder die vorige ontvangers, tel die ontslape onderwysman en struggleleier dr. David Piedt, kunstenaars Willie Bester en Coenie Thys, entrepreneur Suzie Matthys, digter Diana Ferrus, atleet Johan Landsman en historikus prof. Henry Jatti Bredekamp.

(Agter)L na R-D van Huffel, W Boezak,D Ramsden, C Beukes, H Africa, W Fransman Jr, L Evans.(Voor) L na R-T Wakefield, D van Wyk, I Jones, M le Roux, M Mapling, H Dowry en J Topley

Charles Beukes het hulde gebring aan dr Danny Titus en ontvang die postuum eretoekenning vir dr Danny Titus as Dak Netwerk se eerste voorsitter

Die eretoekenning vir bydrae tot sport administrasie en -ontwikkeling was oorhandig aan Thelo Wakefield. Oorhandiging deur Danie van Wyk

Dr. Marlene le Roux verwelkom die Dak Netwerk direksie en gaste

Helene Africa ontvang die eretoekenning in die kategorie -Bevordering van Vroue Entrepreneurskap. Van links na regs- Danneline Ramsden, Helene Africa en Danie van Wyk

Kobus Dowry word gehuldig met ‘n postuum eretoekenning vir sy baanbrekers werk op die gebied van Media en Landbou. Sy seun Heinrich Dowry ontvang die toekenning, oorhandig deur Danie van Wyk

Lucinda Evans ontvang ‘n eretoekenning vir haar bydrae tot Gemeenskapsdiens. Van links na regs- dr Willa Boezak, Lucinda Evans en Danie van Wyk

‘n Postuum eretoekenning was opgedra aan Prof Mary-Ann Plaatjies-van Huffel vir haar rol as kerklike leier. Links na regs- Willem Fransman Jr, ds Dawid van Huffel, dr Marlene le Roux en Danie van Wyk